Mannetjies pou

IMG_20180113_183006.jpgEk stort my hartsverse in pikgitswart ink neer

op tere skrifte,

net om weer omswelg te word

deur jou mannetjies pou kleur.

My ou, flou swart ink steek nou weer af daarteen.

Advertisements

Boelie

“Julle wou my verneder.
Julle wou my verweer ,
My verbrokkel – verbreek.
En my klere skeur.

Tog geskop, gestoei.
Geknak. Geknoei.

En die boeie
van JOU ongevraagde intimidasie
hou honger hande hulpeloos agter my rug vas.

Jy pis en moan oor my voorvaders en jou voorvaders en die gesuffer en a-part-heid, en sleg wit mense,
terwyl ek jou pis moet drink uit ‘n jannie-verjaar koeldrank koppie uit…

Maar Jan is dood.

En grootmense hoef nie jou pis op te drink nie. “

Digterlike vry-heid

Digkuns pamperlang jou siel,

of voer dit vir die voels.

Kaal.  Trek hóm uit

en vertoon jou naakte rondings:

ongeskonde beendere toegevou

in vlees en bloed.

Ons masseer die ongewildheid

krampend, kreunend,

uit ń jong taal se groeiende spierweefsel uit.

Digkuns is al wat nodig is om my siel se epiteelselle te voer

en daar doer

tussen lang vleiriete, bamboes en ryg kankerbossie

stort ek vrylik my siel se digter-kuns mis,

In ń modderbad.

In ń nuwerse gedig,

en ek’s bly ek vry in AFRIKAANS.

Legkaart, bou?

Ingebore stadsmeisie van formaat. 

Die formaat van haar lewe uitbeplan soos n legkaart: stukkie vir stukkie,  stap vir stap,  trap vir trap,  behalwe vir een stukkie wat nie in haar lewenslegkaart wou inpas nie… 

Alles pas in mekaar – stelselmatig geformuleerde metodiese beheerde planne,  wat op die ouend tot haar ”oomblik van volmaakte sintese” en spoglegkaart sou lei.

Behalwe… Daar was n stukkie wat nie wou pas nie.

Na baie wrik en wroeg en probeer om te forseer dat die stukkie moet pas, lyk die prentjie nie meer mooi nie.

Oplaas, deurmekaar in die warboel van stadsliggies,  teerpaaie en gevoel,  besef sy: dis sy.

HAAR stukkie pas nie.  Sy was nie deel van daai legkaart van die stad nie.

Haar lewe kon nie bestaan uit ” beheerde metodiese stappe” en trappe en trappe tot sy ten einde die groter prentjie van die bokant van ‘n wolkekrabber moes sien nie.

Nee.

Haar lewe was eerder n foto–n hele string fotos, deur die lens van bewondering.

Dit was n mik en druk sonder onnodige aksies of ompad bybedoelings.

Haar lewe was eenvoud-wel n mengelmoes kardoes vol kleurvolle herinneringe,  herinneringe wat oor vlaktes van haar lewe se blomvelde,  grondpaaie en graslande gestrooi is.

Haar lewe was die koppies wat nog geklim moes word,  en die plaashekke waaroor sy nog moes klouter om al HAAR skape weer in die kraal te jaag.

Dit was sy – die stukkie wat nie in die stad se legkaart kon pas nie.

Irisse kan mos nie op teerpaaie groei nie.